UJ-samewerking help gegradueerdes om selfstandig te word

Die deur na geleenthede in die entrepreneursektor moet oopgegooi word en jong mense moet aangemoedig word om ʼn entrepreneurskultuur te kweek. Dit was die mening van die entrepreneursreus, dr. Richard Maponya, toe hy Donderdag 4 Junie 2015 ʼn vennootskap met die Universiteit van Johannesburg (UJ) se Fakulteit Bestuur aangegaan het.

Die vennootskap is verwerklik met die ondertekening van ʼn Memorandum van Verstandhouding, wat beoog om entrepreneursvaardighede oor te dra deur diegene wat suksesvol in die sektor was. Die vennootskap behels dat die UJ-Biblioteek ʼn argief sal vestig vir gesprekke en dokumente wat die wel en wee van dr. Maponya uitbeeld.

Aan die woord tydens die ondertekening het dr. Maponya gesê dat die verhouding tussen UJ en die Richard Maponya Instituut vir Entrepreneurskap verandering sal meebring wat studente in staat sal stel om ingeligte sakelui te word wat minder afhanklik van staatswelsyn en -tenders is. Die samewerking behels dat studente wat ingeskryf is vir sakeprogramme wat aan UJ en die Instituut aangebied word, werklike werkservaring opdoen deur die verskaffing van leer- en onderrigtegnieke van gehalte, en ook om toepaslike ervaring van nywerheidsleiers te verkry.

Verder sal die Universiteit die leiding neem om belangrike dokumente, lêers, films en opnames van dr. Maponya se sakepraatjies, geskiedenis en lewensreis te bekom. Dr. Maponya staan bekend as die ambassadeur vir townshipekonomie-ontwikkeling in Suid-Afrika en die Afrika vasteland. Sy besoeke aan Brasilië in die verlede het hom geïnspireer om die jeug van Suid-Afrika te bemagtig deur middel van onderwys in die oordrag van sy entrepreneurskundigheid aan die gemeenskap.

Prof. Daneel van Lill, Uitvoerende Dekaan: Fakulteit Bestuur, UJ, het gesê dr. Maponya is een van die baanbrekers van ekonomiese ontwikkeling in Suid-Afrika en dat sy verbintenis met UJ in baie opsigte voordelig is. “Die UJ-Biblioteek sal die nalatenskap van dr. Maponya vaslê. Ons sal gesprekke met hom voer om toekomstige geslagte oor entrepreneurskap te leer en hulle te inspireer met iemand uit die plaaslike gemeenskap van Soweto,” het prof. Van Lill gesê.

Tydens die ondertekening was UJ se Uitvoerende Bestuurskomitee (UBK) en mnr. Eric Sogocio, Eerste Sekretaris van die Brasiliaanse Ambassade, teenwoordig. Sommige Maponya familielede was ook teenwoordig tydens die ondertekening. “Die uitruil van ervarings tussen Brasilië en Suid-Afrika en Suid-Afrikaanse institute, soos die Richard Maponya Instituut vir Entrepreneurskap lewer ʼn groot bydrae tot die toekoms van die Suid-Afrikaanse ekonomie,” het mnr. Sogocio gesê.

UJ sal die infrastruktuur verskaf vir die bedryf van die Instituut. Die Universiteit sal ook as aangewese en geakkrediteerde eksamenliggaam vir studente wat vir programme by die Instituut ingeskyf is, optree totdat die Instituut geakkrediteer is en in staat is om hierdie funksie onafhanklik te vervul. Dit sal plaasvind in ooreenstemming met UJ se toepaslike beleide en prosedures.

UJ gaan ook help met die ontwikkeling van opleidingsmateriaal en programme wat deur die Instituut aan die studente aangebied gaan word, in samewerking met die Instituut en ooreenkomstig die model van die Instituut vir Hulpbronontwikkeling en Maatskaplike Bestuur (IRDAS). UJ sal bekwame personeel voorsien om onmiddellik met die opleiding en onderrig van ingeskrewe studente te begin.

Dr. Richard Maponya se entrepreneurskapvaardighede en skerp sakevernuf het ʼn aansienlike invloed op die Suid-Afrikaanse sake-ontwikkeling gehad en toegang tot hierdie argief sal leergeleenthede aan studente bied wat ongetwyfeld uiters voordelig sal wees. Sulke voordele behels om te verseker dat die Departement van Samewerkende Onderwys aan UJ ʼn redelike geleentheid gebied word om regstreeks te baat by die werksaamhede van die Instituut se indiensnemingsgereedheidsprogramme, soos internskappe, leerderskappe, vaardighede, dinkskrums, dialoë, kongresse, openbare lesings en entrepreneurskapprogramme.

Die vennootskap sal UJ se poel voornemende studente vergroot. Boonop sal dr. Maponya, indien moontlik, in sy persoonlike hoedanigheid lesings aan studente aanbied. Dr. Maponya se handelsnaam sal UJ in staat stel om verhouding met produktiewe individue en entiteite te vorm wat die verhoudings wedersyds voordelig maak vir UJ en dr. Maponya se Instituut.

Share this

Latest News

All News