UJ-geoloë sê ʼn meteorietbotsing het vorming van reusagtige Gauteng

​​Twee miljard jaar gelede het die grootste bekende meteoriet teen die aarde gebots en die Vredefort-koepel, suid van Johannesburg gevorm. Die Universiteit van Johannesburg (UJ) se geoloë is van mening dat hierdie botsing die geologiese strukture gevorm het wat die vorming van ʼn unieke, reusagtige grotstelsel wes van die stad begin het. ʼn Nagraadse student aan UJ, mnr. Pedro Boshoff, onderleiding van prof. Jan Kramers en dr. Herman van Niekerk, verken die oeroue geologiese geheime wat hierdie monstergrot bewaar, vir sy magisterverhandeling. As deel van die speleologiese eksplorasieklub (SEC) was Pedro verstom om blootgestelde rotsformasies te ontdek toe hy in die dieptes van die grot afbeweeg het. Soos met so baie groot wetenskaplike ontdekkings, is hierdie reuserotsstelsel toevallig ontdek. In die 1990’s het ʼn boer wes van Johannesburg vroeg een oggend met ʼn ruk wakker geword. Hy het ʼn geweldige slag gehoor. Na sonsopkoms het een van die plaaswerkers met oë soos groot soos pierings na hom toe met die nuus gehardloop. Daar was ʼn sinkgat in die mielieland. Nadat dit gemeet is, is bevind dit is 18 m in deursnee en diep genoeg om ʼn 12 verdieping-kantoorblok in te sluk. ʼn Paar jaar later, nog ʼn slag. Aan die een kant het die bodem van die sinkgat deurgeval in iets wat nog selfs dieper is. Op 13 Januarie 2013 het ʼn klomp beroepslui, SEC genoem, wat grotte in hul vrye tyd verken, vir die eerste keer die sinkgat gesien. “Vanaf die bokant van die sinkgat kon ons in die een hoek ʼn skaduwee sien, wat ʼn aanduiding van moontlike duisternis daaragter kon wees. Ons was egter nie te optimisties om ʼn nuwe grot te vind nie,” sê Steven Tucker, ʼn SEC-lid. ʼn Week later het hulle teruggegaan. Tucker was die eerste persoon wat na die bodem van die sinkgat afgedaal en in die skaduwee inbeweeg het. Daardie skaduwee het geblyk die ingang na die diepste droë grotstelsel in Suid-Afrika te wees. Hulle het besluit om die grot Armageddon te noem. “Ons noem dit om twee redes Armageddon. Eerstens omdat die grot gevaarlik is weens los rotse. Daardie rotse het dit vir ons baie moeilik gemaak om die drie glykabels, of foefieslides, oor die baie diep skagte in die grot op te stel,” sê Tucker. “Die ander rede hoekom ons dit Armageddon noem, is vanweë ʼn grot wat Apocalypse genoem word. Apocalypse is ook in Suid-Afrika. Daardie grot is die grootste grot in die land, indien mens die totale lengte van die gange meet. “Maar hierdie grot, die Armageddon, is baie dieper. Armageddon is ook langer indien mens op dieselfde vlak aanhou loop. Dit strek oor ʼn groter horisontale afstand en neem langer om te verken.” “Ons het tot dusver net meer as 4 km van die grot met lasertoestelle gekarteer. Die dak is so hoog dat ons dit net met laserafstandsmeters kan meet. Ons ontdek steeds meer verlengings en meer vlakke… ons weet die Armageddon-stelsel het minstens drie vlakke en is minstens 350 meter diep.” Pedro Boshoff het al baie keer in Armageddon afgegaan. Toe Boshoff onder in die reusegrot gekom het, het hy iets buitengewoons rakende die rotse daarbinne opgemerk. Hulle is van mekaar losgeskeur, baie soos wat sneespapier geskeur kan word. “Die rotse het op ʼn unieke wyse oorgehel. Ek het nog nooit so iets binne ʼn grot gesien nie. Die rotsstrukture is deur geweldige kragte verwring. Die kragte was so groot en so skielik dat nie een van die gewone verdagtes aanspreeklik gehou kan word nie. Dit was duidelik dat daar iets agter hierdie strukture in die rots moet wees, iets wat onmiddellik rots uit mekaar kan skeur,” sê Boshoff.​​

​Boshoff het besluit om sy stokperdjie en sy beroep te kombineer en navorsing vir sy magisterverhandeling aan die Universiteit van Johannesburg te doen oor hoe die grot gevorm is. Sy studieleier, dr. Van Niekerk, het met die volgende ekspedisie in die grot by Boshoff en SEC aangesluit. “Ons dink dit het so gebeur… Toe die meteoriet die grond omtrent twee miljard jaar gelede in die Vredefort gebied getref het, is rotse oor ʼn groot gebied deur die impak saamgepers. Wat ook gebeur het, is dat van die rotslae oor mekaar ‘gegly’ het en nuwe strukture gevorm het. Ons noem hierdie strukture laevlakhoekige stootverskuiwings. Waar die rots ‘geskeur’ lyk, sien ons laevlakhoekige stootverskuiwings,” sê Boshoff. Onmiddellik na die krag van die impak het die dolomietiese rotse weer uitgesit en diep vertikale skeure is gevorm. Die kombinasie van hierdie strukture het die proses van grotvorming veroorsaak, ʼn proses wat vandag nog aangaan, sê dr. Van Niekerk. Dit is byna onmoontlik om die ouderdom van die grot te bepaal. Ons weet egter die Vredefort-meteoriet het die aarde naby Johannesburg ongeveer twee miljard jaar gelede getref.​​

Dr Van Niekerk sê: “Ons hoop om ʼn mineraal, serisiet, wat ons ook fynkorrelmika noem, langs die stootverskuiwings in die grot te kry. Hierdie mineraal is ʼn geologiese horlosie vir ons. Ons dink die rotsskeuring kon serisiet geskep het. Sodra ons daarvan kry, en ons ʼn radiometriese ouderdom daarvan kan kry, sal ons vir seker weet wanneer die strukture gevorm is wat die proses van grotvorming begin het. Selfs dan sal dit ongelooflik moeilik wees om die ouderdom van die grot self te bepaal.”​​​

​Diep binne die grot vertel “grotspringmielie-”mineraalafsettings en vonkelende naalde van aragoniet verdere verhale oor die vorming van die grot na die meteoorbotsing. Die Armageddon-grot is een van net twee waarvan ons weet wat wêreldwyd deur meteorietbotsings gevorm is. Weens die regionale oorvloed van die strukture wat die gevolg van die vorming van die grot is, is dit moontlik daar meer onder die westelike deel van Gauteng is.​​​

 

Izazi Zamadwala Zase Uj Zithi Isigaxa Sedwala Esiwe Esibhakabha
Kyk die video wat die hoofpersone in die
​verhaal bekendstel.​
Share this

Latest News

All News